Morele Murasies

Ek moet minder muurblommetjie speel. Ek is die een wat met enige sosiale geleentheid iewers in ‘n hoekie gaan sit en vir die mense kyk. Dis ‘n aktiwiteit wat ek altyd vreeslik geniet het. Deesdae krap dit my egter om. Ek sien goed wat ek eerder nie moes gesien het nie. Ek hoor goed wat ek eerder nie moes gehoor het nie. En dan raak ek vir dae depressief oor die morele verval wat deesdae oral opsigtelik is. Dis nie eens ‘n verval soos ‘n huis met ‘n dak wat lek nie. Nee. Dis veel erger. Ek dink in ons land het net morele murasies oorgebly.

So sit ek toe nou laas week by ‘n kombuistee. So terloops, kombuistees is uit. Bachelorettes is in. Voorheen het meisies geleer huis hou soos hulle ma’s. Deesdae leer hulle drink soos hulle pa’s. Voorheen het ons op kombuistees gepraat oor resepte. Op bachelorettes word grappe gemaak oor mans se penis lengtes. Op hierdie kombuistee waar ek was, het die voornemende bruid raad gevra van die ou getroudes. Ek was geskok. Stomgeslaan. Ek het al hoe dieper in my hoekie ingekruip en gewonder hoe lank die malligheid nog gaan aangaan. Die arme bedeesde bruid het onder andere, die volgende raad gekry:

  • Gaan slaap kwaad – dit gee jou tyd om te dink;
  • Moenie vir jou man vertel waaroor jy en jou vriendinne praat nie – dit het niks met hom uit te waai nie;
  • Moet nooit vir jou man sê wat jy werklik vir die skoene / handsak / klere / wol / wat ook al, betaal het nie. Lieg daaroor of steek dit vir hom weg;
  • Moet nooit dat jou man jou werklik leer ken nie – bly misterieus en laat hom wonder.

Ek moet seker dankbaar wees ek moes nie na raad luister oor hoe om die penis lengte te verbeter nie. Dan sou ek uitgeloop het.

Die mans het nie veel beter gevaar nie. Die voornemende bruidegom, moes van ‘n ouer man af hoor dat, “hierdie nou nie die enigste vrou is wat jy vir die res van jou lewe gaan spyker nie”. Ek glo nie enige iemand sal my blameer dat ek nou GEEN respek vir die betrokke man oor het nie. Werklik.

Mooi rokke op troues is uit. Koekie-pelmets is in. Party meisies het die lywe daarvoor, ander het werklik nie. Maar selfs die wat soos perdebytjies lyk, lyk ook net ‘redelik’ goed, totdat die dans begin. Dan verander die elegante meisie in ‘n arm swaaiende ding wat drie passies dans en dan eers haar koekie-pelmet moet afskuif om te voorkom dat koekie nou heeltemal sigbaar is. Ek kan nie dink dat dit gemaklik is nie. En die dans lyk beslis nie lekker nie. Wat het geword van mooi rokke of pakkies, of selfs broek-pakkies? Waar kom die gebrek aan styl vandaan? Was dit nog altyd daar? Het ek dit net mis gekyk?

En dan begin die drinkery. Oe hene. Die bytjies met die koekie-pelmets is voor in die koor. Drink uit die bottels uit. Vry die mans dat die spoeg spat – sommer so daar tussen almal. Dronk. Heeltemal flenters gedrink.

Nee gonna mense. Ons sal hierdie morele verval moet stop, voordat daar van ons nageslag niks oorbly nie. Ons ouer mense moet ernstig begin dink oor ons rol as mentors. Jong mense kyk na ons vir ‘n voorbeeld, raad en leiding. Ek skaam my vir die voorbeeld, raad en leiding wat hierdie jong mense gekry het. Ek kry hulle so jammer. Gelukkig is hulle oopkop en besef dis snert waarna hulle eerder nie moet luister nie. Maar wat van die mense wat die raad uitgedeel het? Wat dink hulle van hulleself? Waar is die selftrots? Waar is die selfwaarde? Is drank en seks nou al wat van ons eens trotse volk oorgebly het?

Besef ons werklik hoe groot invloed ons het op die jong mense? Besef ons werklik hoe belangrik ons mentorskap is? Besef ons werklik, dat ons ander mense se lewens beinvloed, hetsy goed of sleg? Dis ‘n groot verantwoordelikheid en ek dink daar is baie mense wat ons jeug toetentaal faal. Hoe hartseer.

Kies vandag om ‘n goeie mentor te wees. Gee goeie raad. Gee Bybelse raad. Stel ‘n goeie voorbeeld. Koop tog ‘n pakkie, nie ‘n koekie-pelmet nie. Moenie ‘n nuwe huwelik probeer vernietig nog voordat dit ‘n kans gehad het nie.

En ag so laaste sinnetjie – kan die ouer vrouens tog maar begin om net so bietjie beter aan te trek? Die kompetisie tussen die ou koekie-pelmet draers, en die jong koekie-pelmet draers, was werklik lagwekkend. En kommerwekkend.

 

Advertisements

Waaroor kla ek nou eintlik?

Een operasie na die ander. Nie een suksesvol nie. So gaan dit nou al vir drie jaar. Ten minste kan sy al glimlag – sy kon nie vroeër glimlag nie. Dis nie dat sy nie wou nie – sy kon nie. Die skade aan haar gesig was te veel.

Hulle het ingekom in die aand. En vir ‘n hele nag lank was hulle daar. Sy is vir ure aaneen gemartel, in alle moontlik maniere. Haar gesig is vergruis. Sy is herhaaldelik met ‘n skroewedraaier gesteek – soveel so dat haar ingewande beskadig is. Verkrag. Die lysie is te lank. Vir ure. Vir ‘n hele nag lank. En so het hulle haar vir dood agter gelaat.

Dis nou al drie jaar later en die trauma sal nooit weg gaan nie. Dis vir altyd met haar. Elke keer wat ‘n operasie misluk is dit daar. Elke keer wat sy alleen iewers heen wil ry, is die vrees daar. Elke keer wat sy alleen in haar huis is, is die vrees daar. Vroeër was sy vol selfvertroue en het selfs in Europa gery, sonder vrees, in ‘n vreemde land. Nou, is vrees haar kontstante metgesel.

Ek kyk na haar en ek wonder – waaroor kla ek nou eintlik?

Ek laat sak my kop in skaamte en prewel “Jammer Here”.

Verdwaal…

Verdwaal. Dis hoe ek nou vandag voel. Verdwaal hier in my eie huis. Ek vat hier en los daar. En kry eintlik niks gedoen nie. Die lys van wat gedoen moet word is lank. En dis dringende goed. Maar ek is net vir niks lus nie. Ek verdwaal in my eie gedagtes.

Ons kla so maklik. Oor sulke simpel goedjies. Ek kla oor sinus. Ek kla oor hooikoors. Ek kla oor my rug wat vandag weer spasmas het wat geen masseuse sal uitkry nie. En die lysie van klagtes raak net al hoe langer. Ek wonder of die Here nie soms Sy ore wil toedruk vir ons eindelose gesanik nie.

Ek het sinus, maar ek het nie kanker nie. Ek het rugpyn maar ek is nie verlam nie. Ek verdwaal in my huis, maar vanaand is my boom weer hier. Ek het soveel om voor dankbaar te wees. Miskien moet ek net vir so rukkie sit en fokus op al die positiewe goed in my lewe, en net vir so rukke my seëninge tel.

En jy? Wanneer laas het jy gesit en dink aan alles waarvoor jy vandag kan dankie sê?

 

Rescue Remedy Drops

Sy is hier. Die vuurvreter van ouds. Sy kuier so paar dae by ons. Vir haar amper 81 jaar, lyk sy eintlik baie goed. Sommige dae is maklik. Ander dae is vreeslik. Gister was vreeslik. Van begin, tot einde.

Sy wou opsluit winkel toe. Ek haat winkels onder normale omstandighede. Hierdie tyd van die jaar vermy ek al die winkels. Maar nee. Mamma soek nuwe boeke. En sy rits die name uit. Wilna Adriaanse. Sophia Kapp. Madelie Human.

Maar eers ontbyt. By die Wimpy. Julle! Dis erg met die ou mense wat in ‘n vorige regime groot geword het. Die rassisme wat soms uitspring is genoeg om my hart te laat gaan staan. Toe ons voor die Wimpy stop wonder sy hardop hoeveel swartes nou vandag weer daar gaan sit. En sy het dit natuurlik nie so mooi gestel nie. Ek het haar sommer uitgevreet. Sy gaan after all die hemel met mense van elke nasie, volk en taal moet deel. So sy kan sommer nou al oefen. As sy ooit die hemel gaan maak met so houding. Dis was nou alles in my preek nê. Nodeloos om te sê was ek sommer vir die res van gister in onguns.  Nie net ek nie. Almal het gister deurgeloop.  Die arme plaaswerkers. Oor alles. Die honde. Hulle is al te bang om hulle neuse by die deur in te druk.

My ou boom het laatmiddag by die huis gekom en die storie so vir ‘n halfuur sit en beluister. En toe in sy diep, rustige stem het hy dit kortgeknip: “Ma, stop nou jou kak. Genoeg is genoeg”. En wonderbaarlik toe stop ma haar kak. Genugtig. Hoekom werk dit nie as ek dit probeer nie?

Ek bekla vanoggend my lot by my vriendin en lag baie lekker toe ek die raad kry: “kry Natura se Rescue Drops – dit ruik na niks – gooi dit in haar koffie. Ek het dit vir jare gedoen! As my ma kom kuier het, het haar koffie en my man sn druppels in gekry. My ma het altyd gesê sy is so rustig as sy by ons kuier. Nooit het sy geweet nie”.

Raai wat is op my inkopielysie? Natura Rescue Drops. Vir in die koffie. Enige iemand wat grilgattig is, se koffie. Iewers moet mens darem wraggies bietjie kan ontspan ook die tyd van die jaar. Hierdie buie maak my heel moeg. Miskien moet ek sommer by my eie koffie begin. Maar ek sal eers die druppels moet kry. En ek wil nie winkel toe nie. Sug.

Ek wonder of my boom vandag in die winkels gaan draai….

Dis alweer Kersfees…

Goeiste. Hierdie jaar was wild en woes en het so vinnig verby gegaan! Ek kan nie glo dis al weer Kersfees nie. En vir ons in Suid Afrika is dit maar bitter-soet nê. Ek wil nie meer eintlik op sosiale media wees nie. Ek wil ook nie die koerante lees nie. Dit maak my depressief. Ek is so moeg en op vir kinder mishandeling, vroue mishandeling, diere mishandeling, moord en doodslag, aborsies, politici wat nie ekonomie 101 gedoen het nie, droogte en die gevolge daarvan, bomme, ISIS en die lysie gaan aan. Hemel tog. Dit raak net erger by die dag. Ek voel of ek wil onttrek na ‘n wereld van wol en niks anders nie. My wolle is vreedsaam en strelend. Dit ontspan my. Maar ongelukkig is dit nie hoe die lewe werk nie. Ons kan nie soos ‘n volstruis kop agter ‘n klip indruk en dink alles gaan beter wees as ons weer eendag kyk nie. Nee. Ons is geroepe om dit beter te maak.

Ons word so dikwels oorweldig deur die enorme nood om ons, dat ons van alles wil vergeet en niks wil doen nie. Een persoon kan tog nie die wereld verander nie. Nee. Maar een persoon, kan die wereld verander, vir EEN ander persoon daar buite.

Oorweeg dit om net EEN persoon, wat alleen gaan wees Kersfees, na jou toe te nooi. Maak ekstra kos net vir EEN familie wat nie het nie. Koop die broodnodige net vir EEN persoon wanneer jy jou inkopies gaan doen. Gaan kuier net vir EEN tannie in die ouetehuis wat dink almal het van haar vergeet.

Kom. Ek daag jou uit. Wees Jesus, net vir EEN persoon hierdie Kersfees. Ons preek te veel en doen te min. Voordat ons Jesus preek, moet ons Jesus WYS vir ‘n verlore wereld.

Leef JESUS hierdie kersfees. Maak ‘n verskil, net vir EEN.

Tel jou seëninge… een vir een

Ek wonder altyd hoe iets so onverwags in my gedagtes in spring. Van waar af kom ‘n stokou koortjie wat ek baie jare laas gehoor het? Sommer net so? Iewers in die argiewe van my brein het ‘n laai nou seker oopgeskuif en die koortjie het uitgespring!

Tel jou seëninge, een vir een
Kyk hoe goed dat God dit met jou meen
Tel hulle dikwels
Tel hul een vir een
Dan sien jy die Here laat jou nooit alleen

Ons kla maklik. Meeste van die tyd kla ons net uit gewoonte uit. Ons het nie ‘n gewoonte van dankbaarheid nie. O nee. Maar kla, die kan ons goed doen.

As dit winter is, kla ons oor die koue. As dit somer is, kla ons oor die hitte. Ons is net so klaerig soos die Israeliete in die woestyn. Niks is ooit genoeg nie. Niks is ooit goed genoeg nie. Niks is ooit na ons sin nie. Ons kla, kla, kla.

So staan ek by die strykplank. Wie het stryk uitgedink? Kon hulle nie maar daai persoon met klippe doodgegooi het nie? Sien? Lekker kla ek. So terwyl ek stryk mor ek onderlangs oor die hitte. Stryk is nie lekker as dit so warm is nie nê! En skielik besef ek, hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Skielik oorweldig die Heilige Gees my en die trane van dankbaarheid loop teen my wange af. Terwyl ek die netjiese hemp stryk, sê ek dankie. Dankie dat ek ‘n man het. Dankie dat my man vir my goed is. Dankie dat my man vir my lief is. Dankie dat my man vir my sorg. Dankie dat ek die voorreg het om sy netjiese hemp vir hom te kan stryk.

Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Ons moet net so bietjie minder kla, en meer kyk, en werklik sien wat om ons aangaan. Dan sal ons minder kla en meer dankbaar wees.

Kies vandag dankbaarheid. Los die kla. Dis in elk geval nie lekker nie.

Moskombersies

Laurika Rauch het gesing van moskombersies – die mense wat ek lief het, groei op my soos mos…..

Daar is soveel goed wat my aan my moskombersies herinner. Dis die bekende reuk van my ma wat klou aan die trui wat sy vir my gegee het. Ek kon die reuk nog nooit werklik met woorde vaspen nie. Dis nie haar parfuum nie – die parfuum reuk was uit. My ma se reuk klou. Dis die reuk van my man se gunsteling naskeermiddel wat hang in die gang nadat hy vroegoggend al gery het. Dit laat my summier wens die dag was al om sodat hy kon huis toe kom. Dis die kluitjies bo-op die skaapvleis wat so vaalbruin kleur getrek het in die vet, wat my laat verlang na my pa – sy ken het geblink van die skaapvet as hy so lekker geëet het. Dis die liedjie op die radio “Oh Lord, it’s hard to be humble” wat my laat lag oor my broer as jong man so verwaand was en my pa hom so daaroor gespot het. Dis die verlang na my sussie as Neil Diamond se stem onverwags skielik opklink. Die lys is lank.

Vanaand, is dit die reuk van varsgeroosterde koffie wat swaar hier in die huis hang. Ek ruik dit tot doer agter in die badkamer met die rooi-politoer-vloer. Dit het my omvou toe ek net-nou van buite af ingekom het. Die reuk het deur my longe tot in my hart getrek, en daar ‘n warmte veroorsaak wat my lyf deurspoel het. Koffie. Varsgerooster. Met ‘n tikkie kaneel. Soos net my man dit kan doen. Perfek.

Soms druk die lewe mens in ‘n hoek vas en dit voel of alles om jou wankel. Soms in sulke tye vergeet ‘n mens van jou moskombersies. Vir een of ander rede isoleer mens jouself in sulke tye en probeer jy dapper alleen die reus oorwin. Selde kry mens dit reg.

Het jy al opgelet hoe jou keuse van klere vir die dag, jou innerlike toestand weergee? As ek die dag ‘n diep behoefte het aan ‘n tjalie, dan weet ek, ek het eintlik ook ‘n diep behoefte aan ‘n moskombersie. Dis op sulke dae wat ek my tjalie styf om my vou, ‘n moskombersie vriendin bel, en iewers saam met haar gaan sit. Vriendinne maak die beste moskombersies. Ons verstaan mekaar. My vriendinne het werklik op my gegroei soos mos. Die mense wat ek lief het.

Gaan sit so bietjie en dink aan jou moskombersies. Maak tyd vir hulle. En maak tyd om ‘n moskombersie te wees en op iemand anders te groei. Vrouens het mekaar nodig. Die lewe is soms so fel. Kan ons nie maar sagter met mekaar werk nie? Kan ons nie maar sagter met onsself werk nie? Ons is tog eintlik almal maar net stokfiguurtjies. Dun. Broos. Breekbaar.

Previous Older Entries